Liam Jacobs (4) van Noordwes is met breinkanker gediagnoseer wat na sy ruggraat versprei het. Hy is tans in die Unitas-hospitaal in Pretoria waar hy vandag ‘n eerste operasie sal ondergaan.
Burre Burger van Droogtehulp vertel hoe emosioneel hy deur ‘n oproep deur WD, Liam se pa, ‘n boer, geraak is.
“Elke woord wat hierdie pa gespreek het, was gelaai met hoop en vrees, moed en onsekerheid. Dit is ongelooflik hoe ‘n enkele gesprek soveel emosies kan ontlok—die liefde van ‘n ouer wat nooit sal opgee nie, die angs van ‘n onbekende toekoms en die oortuiging dat iets goeds moet gebeur.”
Burger, wat Liam Donderdag in die hospitaal in Gauteng besoek het sê die kleuterseun het twee helde, Hulk en APPEL, en hy het die geleentheid gehad om hulle altwee te ontmoet.
“Bid vanaand en môre ekstra hard… Môre is ‘n baie groot operasie…”
Burger het ‘n eerste donasie aan Liam se ouers gemaak om hulle in nood by te staan.
“Elke gebed, elke skenking, maak ‘n verskil. Dit is in ons hande om ‘n bietjie lig te bring in hierdie donker tyd. Kom ons wys dat ons gemeenskap sterk is in liefde en sorg. Kom ons help Liam om te veg. Hy verdien ons ondersteuning, en saam kan ons hierdie reis vir hom en sy gesin makliker maak.”
‘n Beesveiling ten bate van Liam word op 23 Augustus op Ottosdal gehou.
Indien jy vir Liam en sy gesin wil bystaan, kan jy Burger se blad hier besoek. Alternatiewelik kan jy kontak deur burre@droogtehulpo.co.za of droogtehulp.co.za maak.
“Deel hierdie boodskap met ander, en laat ons ‘n ketting van liefde en omgee vorm.”
Suné Jacobs, Liam se mamma en ‘n onderwyseres op Sannieshof, het die volgende boodskap ses dae gelede op haar sosiale media gedeel:
GETUIENIS!!
Soos meeste van julle weet, is dit dag 2 wat Liam nie opgooi nie, en vanoggend het hy die eerste keer wakker geword SONDER kopseer! So medies gesproke as mens kyk na hoe groot die gewasse is en juis omdat dit in die spinale koord ook is, moes Liam BAIE swakker gewees het! Ek deel met julle dat Liam nog self loop, hy hardloop vir die verpleegsters weg as hulle sy voedingsbuis wil spoel, hy’t nou nou op ‘n skopfiets gery en buite rondgeloop, medies gesproke moes ons kind van balans af gewees het, EN HY IS NIE!! 3 mediese kenners sê hulle is verstom, dit wat die scan wys en hoe Liam op en wakker is pas nie bymekaar nie. Dis asof dit iemand anders se scan is. In die naam van Jesus verklaar ek dat die kanker nie deel is van my kind se lewe nie!!
En dan… Liam het ‘n week terug laas geëet, so hy’t op protein shakes gelewe die afgelope paar dae, gisteraand was hy lus vir BOEREWORS, julle, hy hou nie eers so baie van wors nie. Die dieetkundige het gesê hy mag bietjies op ‘n slag eet al is die voedingsbuis in. En julle, hy eet ordentlik, sommer iets van alles!! Hy word ook nie naar nie. Hy’t net 1 keer vandag kopseer gehad !! God is sooo getrou!!
GENADE OP GENADE!!
SPREEK LEWE, EN HOU AAN BID ASB!!

