KWAZULU-NATAL. – ’n Kleutermeisie (2) is Sondag tydens ’n kaping in die sentrale sakegebied van Tongaat tydens ‘n kaping ontvoer, maar later ongedeerd aangetref. Sy is gevind nadat die gekaapte voertuig weens ‘n ongeluk tot stilstand gedwing is.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die kind se ouers het by die Tongaat- operasionele sentrum opgedaag en om hulp gesmeek. Hulle wit Toyota Tazz is by die Tongaat-busstasie deur twee verdagtes gekaap. Die manlike slagoffer het glo probeer om die kapers teë te staan, maar is oorweldig. Die kapers is in die voertuig met die kind op die agtersitplek vort.
Rusa-beamptes het hulle ná inligting van ‘n voertuig wat aan die beskrywing voldoen en ‘n ongeluk by die Tongaat-poskantoor gemaak het, gehaas. Op die ongelukstoneel is die kind, wat deur die publiek vertroos is, ongedeerd aangetref.
Die verdagtes het te voet gevlug en is nog steeds op vrye voet.





