KAAPSTAD. — Die vastrek van ‘n verdagte met 37 pakkies kokaïen gister het die klem op die gevaar van dié dwelm geplaas.
JP Smith, DA Raadslid van die Stad Kaapstad, sê ‘n verdagte is in Brackenfell met R17 000 se kokaïen en R3000 kontant vasgetrek. Smith sê dit onderstreek ‘n kommerwekkende tendens. “Kokaïen, wat vroeër as ’n elite-dwelm beskou is, is nou wyd beskikbaar en tref al ons gemeenskappe. Dit hou die Kaapse Vlakte in ’n wurggreep en dryf bendegeweld tot nuwe hoogtes.”
Van luukse dwelm tot gemeenskapsramp
Volgens Smith het die straatprys van kokaïen oor die afgelope dekade met amper 50% gedaal, wat dit baie meer toeganklik maak. Bendes gebruik nou kokaïen as lokaas om beheer te vestig en ’n gevoel van “beloning” te verkoop aan jong gebruikers. “Verslawing begin dikwels onskuldig – ’n ‘keer of twee’ vir plesier – maar dit ontwikkel gou in ’n verwoestende siklus van afhanklikheid,” waarsku Smith. “Gebruikers jaag die aanvanklike ‘high’, maar val daarna in ’n diep ‘crash’ en so begin die kringloop van verslawing.”
Suid-Amerikaanse kartels betrokke
Smith sê die probleem is nie meer net plaaslik nie. Daar is toenemende bewyse dat Suid-Amerikaanse kartels bande gesmee het met plaaslike bendes en hawens soos Saldanhabaai en Kaapstad gebruik word om voorrade in te smokkel.
Hy verwys na die onlangse geval van Peter Jagger, ’n beweerde bendeleier van Bishop Lavis, wat glo ontvoer is nadat ’n kokaïenversending aan die Kaapse kus verkeerd geloop het. Die kartel het glo ’n losprys van R50 miljoen geëis of die versending wat moet teruggegee word. Toe dit nie gebeur nie, is Jagger en ’n metgesel dood aangetref in die Vrystaat, vasgeketting onder in ’n dam.
Die vorige arrestasie van bendeleier Ralph Stansfield het intussen ’n magsvakuum geskep wat gelei het tot ’n hewige gebiedsoorlog tussen meedingende bendes, sê Smith.
Matrix-program bied werklike hulp
Smith beklemtoon egter dat die oplossing nie net by polisiëring lê nie. “Ons moet die gesondheidsdimensie van verslawing aanspreek. Dit is ’n siekte, nie ’n karakterfout nie,” sê hy. “Vir dié wat reeds vasgevang is in verslawing, het ons hulp beskikbaar.”
Die Stad Kaapstad se Matrix-program, beskikbaar by verskeie klinieke in die stad, het ’n sukseskoers van meer as 80% onder deelnemers wat die program voltooi. “As jy of iemand wat jy ken met verslawing worstel, is hulp beskikbaar. Besoek enige van ons klinieke om meer oor die Matrix-program uit te vind. Daar is hoop en daar is herstel.”






One Response
Diegene wat wel help aanvaar vd Matrix projek is natuurlik in die minderheid, en alhoewel Elke bietjie help, is daar nog diegene wat nie die kursus voltooi nie, wat beteken alles gebeur teen slakkepas spoed . Dan is daar nog die newe effekte Soos cold turkey EDM so groter hull sal van pas wees. Toegegee ten minste word daar pogings aangewend.