OOS-KAAP. – AO Zuko Mbini (46) en konstabels Kuhle Mateta (27), Nkosiphendule Pongco (32), Sibongiseni Sandlana (32) en Zuko Nelson Ntsheku (38) het op 21 Februarie 2018 tydens ‘n aanval op Engcobo (Ngcobo)-polisiestasie gesterf.
Brig. Athlenda Mathe sê elk van die beskuldigdes is Woensdag vyf keer lewenslange tronkstraf deur die Mthatha-hooggeregshof opgelê. Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom. Nog sewe verdagtes is gedurende 2018 tydens ‘n konfrontasie met gespesialiseerde eenhede van die polisie en Valke noodlottig gewond.
“Al die polisiebeamptes is tydens die aanval in die stasie ontwapen en daarna doodgeskiet. Die stasie is ook van minstens tien vuurwapens, insluitend gewere, 9 mm-pistole en ammunisie, beroof.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê Andani Monco (36), Kwanele Ndlwana (28), Siphosomzi Tshefu (29) en Phumzile Mhlatywa (51) is buiten die vyf keer lewenslange vonnis elk, ook ‘n addisionele aantal jare, tussen 25 en 40, gevonnis. Die misdade waarvoor die beskuldigdes gevonnis is, sluit samewering om moord te pleeg, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, inbraak met die doel om ‘n misdaad te pleeg, regsverydeling en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, in.
Die veroordeelde moordenaars was deel van ‘n kultus, bekend as die Seven Angels Ministry Church wat in Nyanga-woonbuurt, naby Ngcobo, gesetel is.
Op 21 November 2017 het die groep eers ‘n polisiebeampte wat verkeer reguleer het in Butterworth van sy vuurwapen beroof. In Desember van dieselfde jaar is hulle na Cala waar ‘n polisiebeampte met ‘n vuurwapen gedreig en van sy vuurwapen beroof is. Voor die aanval op die polisiestasie is die beweging van die lede van die polisiestasie dopgehou en beplanning vir die aanval gedoen, waartydens elkeen ‘n rol in die uitvoering van die misdade toegewys is.
Mlatyhwa moes die polisie se aandag met ‘n verkeersmisdaad aftrek. Polisielede moes na die toneel van die misdaad beweeg, dan sou Mlatywa wegry na waar sy makkers met wapens, wat hulle vroeër geroof het, wegkruip.
Op die betrokke aand het twee polisiebeamptes volgens plan reageer, waarna hulle in ‘n lokval gelei en op die R61-pad, naby Hoërskool Nyanga, vermoor is. Van daar is die groep met die polisievangwa na die polisiestasie waar nog twee polisielede doodgeskiet is. Die polisiekluis is van meer vuurwapens en koeëlvaste baadjies geplunder. Nog ‘n polisievangwa wat van patrollie teruggekeer het, het ook onder skoot gekom en is ook beroof. Van daar is die groep na Capitec Bank waar hulle onsuksesvol probeer het om ‘n kluis oop te breek.
“Polisiebeamptes van die naburige Dalasile-polisiestasie het reageer toe hulle oor die polisieradio hoor Ngcobo-polisiestasie is aangeval. Hulle het ook onder die swaar gewapende groep deurgeloop. Die polisievangwa is die volgende dag in ‘n sloot by die dorpie Khanya gevind.”
Tyali sê die polisie se ondersoek het tot die inhegtenisneming van die groep in die kultus se Mancoba-opstal gelei.
“Tydens die verhoor het die groep borgtog laat vaar en verkies om hul eie verdediging te behartig en het aangevoer dit is teen hul ‘godsdiensoortuigings’ om deur prokureurs verteenwoordig te word. Dié besluit het egter die verhoor vertraag, aangesien die voorsittende regter die beskuldigde mans, wat nie ‘n regsagtergrond gehad het nie, tydsaam moes bystaan.”
Siphesihle Tatsi (19 ten tydens die misdaad) het gedurende die verhoor skuldig gepleit en is effektief 18 jaar direkte tronkstraf opgelê.
“Tatsi is effektief tot 18 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, aangesien sommige aanklagte in sy gesamentlike vonnis van 241 jaar gelas is om gelyklopend uitgedien te word.”
“Die hof het die vier aanvallers soos volg gevonnis: Andani Monco met sommige aanklagte wat samelopend is, sal effektief 35 jaar direkte gevangenisstraf uitdien. Phumzile Mhlatywa sal ook met sommige aanklagte wat gelyklopend loop effektief 25 jaar direkte gevangenisstraf uitdien. Kwanele Ndlwana en Siphosomzi Tshefu sal elk 40 jaar direkte gevangenisstraf uitdien. Al die effektiewe vonnisse vir elkeen van die veroordeeldes is beveel om saam met die vyf lewenslange vonnisse uitgedien te word.”
Die NVG het die vonnisse verwelkom.





