Twee van die land se gunstelingsangers, Appel en Robbie Wessels, het Vrydag die lied Boereworsgordyn, wat gaan oor die denkbeeldige skeidslyn, Centurion, wat Pretoria en Johannesburg van mekaar skei, vrygestel.
“Die Boereworsgordyn is daardie denkbeeldige grens tussen Pretoria en Johannesburg, Centurion, wat dikwels as die skeidslyn tussen die twee stede gesien word. Ek en Robbie het besluit om ’n lekker lawwe, aksiebelaaide rugbyverhaal rondom hierdie idee te bou. Ek hoop mense gaan mal wees oor hierdie liedjie, iets wat jy hard speel op ’n braai, in jou bakkie, of op pad na Loftus” verduidelik Appel.
“Verwoerdburgstad, soos Centurion eers genoem was, was jare gelede deur sommige mense as die ‘Boereworsgordyn’ bekend. Ek is nie seker hoekom nie, maar vir my klink dit soos ’n beskrywing van ’n lekker klomp mense wat saam bly, saam kuier en saam rugby kyk. Ek het probeer om saam met Appel lekker skerp lirieke uit te dink. En natuurlik het ek ’n paar van my alombekende dansies ingewerk. Die lekkerste deel was om saam met Appel te skryf. Ek het besef hoe ‘n ongelooflike liriek- en melodie-skrywer hy is. Dit was ’n fees,” voeg Robbie laggend by.
Fanie Nel van die Coleske Group sê vir hierdie opwindende liedjie het die veelsydige kunstenaars hulle kreatiewe talente saamgesnoer. Boereworsgordyn is deur die twee sangers saam geskryf, terwyl Murray Lubbe dit vervaardig het en Paulo Azevedo die stemwerk in die Coleske-ateljee behartig het. Conrad Theron van Atlas Media het die musiekvideo verfilm. En die musiekvideo spog met ‘n hele paar bekendes in rugbykringe, insluitend die kaptein van die Blou Bulle en tweelingspelers van die Leeus.
Die liedjie is deur Appel as ‘n viering van Afrikaanse mense bestempel – rugby, braai, lekker lag en ‘n goeie tyd saam met vriende en familie.
“Dit speel af tydens ’n spannende rugbywedstryd tussen die Boereworskartel en die Snoeke. Die Boereworskartel is in groot moeilikheid en loop agter op die telbord. Hul afrigter, Jacques Potgieter (oud-Springbok en tans afrigter van Centurion-rugbyklub), besef hulle het ’n kragtige inspuiting nodig om die span se gees aan te wakker. Hy bel toe vir my en Robbie, want ons het ’n geheime boereworsresep wat ’n span se gees binne sekondes kan omdraai. Ons daag toe op met ’n spesiale oproep en ons geheime wapen – die WORS SQUAD! Ek is verskriklik trots om ’n paar Springbok-helde en Suid-Afrikaanse rugby-ikone in die video te hê: Willem “Die Yster” Alberts, Jannie du Plessis, Marcell Coetzee (kaptein van die Blou Bulle), JP en Ruan Smit (die bekende tweeling van Leeus-faam). Hierdie manne bring krag, gees en aksie na die veld toe. Natuurlik ’n goeie klomp boerewors en harde houe,” lag Appel.
Mondanette Slaghuis het vir die boerewors in die musiekvideo gesorg en Appel se eie drankreeks, Foute, asook Donkey Long Tong, het ook ondersteuning gebied.
“Ons het lanklaas ’n musiekvideo met soveel aksie en humor in die Afrikaanse musiekbedryf gesien. Ek en Robbie skryf stories met musiek, nes Jan Spies, PG du Plessis en Tolla van der Merwe dit met woorde kon doen. Dit is ’n liedjie, ’n storie en ’n fees in een, ek dink mense gaan dit vreeslik geniet,” sluit Appel af.
Boerewordgordyn kan op alle stroomdienste hier gekry word.