KWAZULU-NATAL. – ’n Egpaar, vermoedelik in hulle laat 60’s, is vanoggend (Dinsdag) in ’n huisbrand in Midmarweg in Shallcross dood, terwyl ses ander persone lig beseer is.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die brand het kort ná 06:30 uitgebreek. Met aankoms op die toneel was die Ethekwini-brandweer reeds besig om die brand te bestry. Paramedici het ses inwoners, wat daarin geslaag het om uit die huis te ontsnap, ondersoek en vir geringe beserings behandel. Nadat die brand geblus is, is paramedici die huis ingestuur. Daar het hulle op die liggame van die man en vrou afgekom, wat as gevolg van die brand noodlottige beserings opgedoen het. Albei is op die toneel dood verklaar.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend. Die polisie was op die toneel en sal verdere ondersoeke doen.





