GAUTENG. – Bethuel Lesetja Makgetha (50), ‘n voormalige onderwyser, is deur die Tembisa-landdroshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n 13-jarige leerder in 2019 herhaaldelik verkrag het.
Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Makgetha, ‘n onderwyser in skeppende kunste, die leerder tussen Oktober en November 2019 gemanipuleer om ná skool te bly. Hy het haar stilgehou met dreigemente oor haar akademiese punte. Die leerder se ma, wat gedink het haar dogter kry hulp, het eers agterdogtig geraak toe sy ’n verandering in haar dogter se gedrag opgemerk het. Ná konfrontasie het die dogter haar ma vertel van die verkragting, waarna die onderwyser in hegtenis geneem is.
Die dogter is medies ondersoek en het sielkundige hulp van die Thuthuzela-sorgsentrum by Tembisa-hospitaal gekry.
Adéle Erasmus, die aanklaer het alle aanklagte bo redelike twyfel bewys. Sers. Jacky Baloyi het die saak suksesvol ondersoek.