GAUTENG. – Die ma van ’n seun (4) en drie ander beskuldigdes het op aanklag van kindermishandeling en poging tot moord in die Johannesburg-landdroshof verskyn en bly tot hulle volgende hofverskying op 4 Augustus in aanhouding.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring in ‘n video wat die rondte doen, rook die kind ‘n onbekende stof. Die voorval het op 29 Julie in Sophiatown plaasgevind. Die inhegtenisnemings is gemaak nadat die video aanlyn versprei is. In die video kan ‘n jong kind gesien kan word hoe hy ’n stof in ’n pyp vir sy ma aansteek. Sy moedig hom dan aan om self daarvan te rook. Dit het in die teenwoordigheid van die drie medebeskuldigdes plaasgevind. Die kind is intussen in ’n plek van veiligheid geplaas.
Die saak is vir adresverifikasie van die beskuldigdes en die aanstel van regsverteenwoordigers uitgestel.
Mjonondwane sê: “Die NVG veroordeel die uitbuiting en ingevaarstelling van kinders en ons is daartoe verbind om toe te sien dat geregtigheid geskied in sake wat die mishandeling en verwaarlosing van minderjariges behels.”





