MPUMALANGA. – Thulani “Mathousand” Sikhundla word gesoek, aangesien hy moontlik die polisie met die ondersoek na die dubbelmoord van ‘n ma (40) en haar dogter (23) kan help.
Die oorledenes is Dinsdag in die vroeë oggendure op Matsulu, buite Nelspruit (Mbombela), vermoedelik deur iemand wat hulle ken, doodgesteek.
Kol. Donald Mdhluli sê die verdagte het na bewering die familie besoek terwyl hulle televisie gekyk het. Die seun het glo gaan slaap en die verdagte by die familie agtergelaat. Met die ma wat om hulp geskree het, het die seun glo wakker geword en die verdagte met ‘n mes in sy hand in die huis gesien. Die seun het vir hulp na die bure gehardloop.
Terug by die huis is gevind die verdagte het ontsnap. Die ma en dogter is met verskeie steekwonde aan hulle liggame in ‘n plas bloed aangetref. Die polisie en mediese dienste is ontbied, waarna die ma en dogter dood verklaar is.
Twee moorddossiere is geopen. Die verdagte word gesoek.
Enigiemand met inligting oor waar Sikhundla hom bevind, kan die polisie bel.





