KWAZULU-NATAL. – ’n Man, vermoedelik in sy 60’s, is vanoggend (Maandag) omstreeks 10:00 dood toe sy huis in Dr. Hoosen Haffajee-weg in die Bluff deur ‘n brand vernietig is.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê in ‘n plasing paramedici is na die toneel waar die Ethekwini-brandweer reeds besig was om die brand te blus. Die liggaam van ‘n man is deur brandbestryders in die huis gevind nadat die brand geblus is.
Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Die toneel is aan die polisie oorhandig. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en word deur die SAPD en die Ethekwini-brandweer ondersoek.





