DANABAAI, WES-KAAP. – ’n Man het gister omstreeks 12:30 by Tweede Strand op Danabaai verdrink terwyl hy en ’n vriend visgevang het.
Een van die mans kon gered word nadat hulle in die moeilikheid beland het, maar die tweede is op die toneel dood verklaar. Een lewensredder wat van diens af was, was tydens die voorval op die strand teenwoordig.
Die naam van die oorledene kan nie in dié stadium bekendgemaak word nie, aangesien al sy naasbestaandes nie in kennis gestel is nie. Sy vrou was wel glo op die strand tydens sy verdrinking.
Volgens Mosselbay Advertiser is Danabaai se strande nie swemstrande nie, dus is lewensredders nie aan die strande toegeken nie.
Die NSRI sal na verwagting vandag ’n verklaring oor die voorval uitreik.
Bronne: Mosselbay Advertiser, The Citizen




