Meer as 1 500 ontsnap uit Mosambiekse-tronk

Lees ook :

Foto: Skermgrepe van video Uysuf Abramjee en Canva

MOSAMBIEK. – Geweld het in Mosambiek opgevlam nadat die Grondwetlike Raad Daniel Chapo as nuwe president aangekondig het. In die nadraai van hierdie nuus het sowat 1 500 gevangenes glo op Kersdag uit ’n tronk buite Maputo ontsnap.

Chrispin Phiri, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, het in ’n verklaring gesê dringende dialoog moet tussen alle partye in Mosambiek plaasvind. Hy benadruk dat Suid-Afrika bereid is om enige vredes- en bemiddelingspogings te ondersteun en doen terselfdertyd ’n beroep op kalmte.

Tydens die massa-uitbraak is daar berigte van sterftes, beserings en verskeie arrestasies. In die onrus word stropery, asook talle voorvalle van brandstigting aan voertuie en eiendom, gerapporteer.

Aanvanklik het onbevestigde gerugte beweer dat tot 6 000 gevangenes uit die tronk in die Machava-woonbuurt ontsnap het. Justino Tonela, van die Departement van Justisie, het egter teenoor die Club of Mozambique gesê hierdie getalle is nog nie amptelik bevestig nie. Volgens hom huisves die betrokke tronk meer as 3 000 gevangenes, wat reeds veroordeelde misdadigers sowel as verdagtes in aanhouding insluit.

Intussen is na berig word 236 geweldadige voorvalle binne 24 uur landswyd by die polisie aangemeld. Die Mosambiekse regering het as reaksie maksimum veiligheidsmaatreëls landwyd ingestel om verdere geweld en ontsnappings te probeer stuit.

Bronne: Mozambique Digital Media, Crime Watch, DIRCO, Club of Mozambique, The Guardian

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief