Brekende Nuus
Gesondheid

Meer as 55 000 mense reeds vir voorkoming van MIV met Lenacapavir ingespuit

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Meer as 55 000 mense in Suid-Afrika het sedert Junie Lenacapavir begin gebruik, ’n inspuiting wat twee keer per jaar toegedien word om MIV-infeksie te voorkom. Vroue maak 71% van die ontvangers van die inspuiting uit, met swanger en borsvoedende vroue wat die meerderheid vorm.

Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê 55 123 mense is teen 7 September reeds Lenacapavir toegedien. Die middel word tans by 360 openbare gesondheidsfasiliteite in 24 distrikte oor ses provinsies aangebied. Gauteng het die meeste mense op Lenacapavir, met 26 357 ingespuit, gevolg deur KwaZulu-Natal met 11 941, Noordwes met 4 479, die Wes-Kaap met 4 446, Mpumalanga met 4 294 en die Oos-Kaap met 3 606.

Lenacapavir word as deel van die omvattende PrEP-keuseprogram aangebied, wat mense verskillende opsies vir MIV-voorkoming bied. Die Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra) het Lenacapavir as veilig en doeltreffend vir die voorkoming van MIV-infeksie geregistreer. Die departement sê monitering van die middel se veiligheid, beskikbaarheid en gebruik word voortgesit. Mense wat ernstige of aanhoudende newe-effekte ná die inspuiting ervaar, word aangeraai om dit by hul naaste gesondheidsfasiliteit aan te meld.