Ek het grootgeword in ’n huisgesin wat baie lief is vir diere- katte, honde, hamsters, voëls… jy noem dit. My ma is só lief vir hulle dat sy al gesê het sy vertrou nie mense wat nie van diere hou nie; daar móét iets fout wees!
Vir enige diereliefhebber is die gedagte dat daar dalk géén diere in die hemel kan wees nie, amper ontstellend. Dit laat die vraag ontstaan: Sal daar diere in die hemel wees?
Aangesien ek niemand persoonlik ken wat al die hiernamaals beleef het en teruggekom het om verslag te doen nie, moet ek op ’n ander manier tot ’n antwoord kom. Laat ons daarom die Bybel se getuienis en God se handelinge deur die geskiedenis oorweeg.
Wanneer ons die Bybelse geskiedenis volg, sien ons dat die mensdom deur verskeie dispensasies beweeg het:
- Die tuin van Eden, waar dier en mens saam bestaan het.
- Ná die sondeval is Adam en Eva uit die tuin verwyder.
- Die sondvloed, waar God alles vernietig het behalwe dié in die ark – en let op: God beveel dat van elke soort dier gered moet word.
- Die bedeling van genade, waarin ons nou leef.
- Die wegraping en sewe jaar verdrukking.
- Die 1 000-jarige vrederyk, waarvan die Bybel spesifiek sê dat die wolf en lam saam sal lê, en dat die leeu gras sal eet soos ’n bees.
- En uiteindelik: die nuwe hemel en aarde waar die nuwe Jerusalem sal neerdaal, waar ons vir ewig saam met God sal woon.
Wanneer jy al hierdie fases bestudeer, sien jy iets opvallend: In elke liewe dispensasie is daar diere – mak én wild. God het hulle nooit uit sy plan vir die aarde uitgesluit nie.
Selfs in Openbaring lees ons dat Jesus op ’n wit perd verskyn saam met die hemelse leërs. Dit is nie toevallig nie.
Wat sê dit vir ons?
As God deur al die eeue diere in sy skeppingsplan inbou, selfs deur oordele en nuwe beginne, waarom sou Hy hulle in die finale, volmaakte toestand uitsluit? Dit verg nie ’n groot sprong van geloof om te aanvaar dat diere ook deel van die nuwe skepping sal wees nie.
So wat is ons verantwoordelikheid teenoor diere?
Het God nie vir Adam en Eva beveel om oor die diere van die aarde te heers nie?
“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” – Genesis 1:28
Ons is volgens God se opdrag rentmeesters oor die diereryk. En tog sien ons daagliks voorbeelde van mishandeling, verwaarlosing en eienaars wat eenvoudig nie omgee nie. Diere kan nie vir hul eie regte veg nie – God het dit aan óns toevertrou.
As God hulle so liefhet dat Hy hulle in elke era van sy plan laat voortbestaan, hoeveel te meer behoort ons nie moeite te doen om hulle te beskerm en te versorg nie?





