Jana Steyn se fratsongeluk verlede Dinsdagoggend het Suid-Afrikaners aangegryp. Die kleuter het onder die wiele van haar pappa, Shaun, se voertuig beland toe sy gehardloop het om saam met hom te kan ry. Met die ondersteuning van hulle uitgebreide familie het die ouers dadelik alles moontlik gedoen om hulle dogtertjie se lewe te red, in die geloof dat net God hulle kan help. Kelly Smith, haar mamma, het getuienis op sosiale media gedeel van hoe die Here se hand van beskerming Jana se lewe gespaar het.
Kelly sê hulle wêreld het binne sekondes verander, terwyl hulle geweet het dat net die Here hulle kan help. Hulle het onderweg hospitaal toe aanhoudend gebid. “Toe die ambulans ons ontmoet, het ek my man langs die pad op sy knieë sien neerval en na God roep. In daardie oomblik het ek geweet ons kind gaan ok wees, want ons krag kom van die Here af, en Hy is getrou.”
Die blondekoppie moes per helikopter van Potchefstroom na Midrand gevlieg word, waar sy Dinsdagaand ‘n operasie in die Midrand Mediclinic ondergaan het. Met die neem van skanderings en toetse het die hoop nie beskaam nie en haar familie het positiewe nuus gekry dat hulle dogtertjie goed reageer. Buiten ‘n ernstige kopwond, het Jana skedel- en gesigfrakture opgedoen. Sy is aan ‘n ventilator gekoppel, maar volgens haar BackaBuddy-profiel gaan dit goed met haar.
Kelly sê: “Vandag lê dit op my hart om met julle te kom deel watse groot getuienis en wonderwerk die Here gedoen het in ons lewe. Vir dié wat nie weet nie, ek is die mamma van Jana Steyn wat tans in ICU lê a.g.v. ‘n fratsongeluk en ek wil julle kom vertel wat gebeur het en hoe die Here se hand van beskerming ons kind se lewe gered het!
Dinsdagoggend 26 Augustus het die oggend soos enige ander normale oggend begin. My man en seuntjie het vir my en Jana gegroet met soene en drukkies en hulle was in die bakkie op pad om te ry, terwyl my dogtertjie huil sy wou graag saam met haar pappa en boetie na die beeste toe gaan. Ek het vir haar gesê ons gaan skool toe sy moet saam met my kom om gou die diertjies kos te gee. Ek het omgedraai om my skoene by die huis se deur te kry toe sy besluit om so vinnig as moontlik te hardloop om haar pa te probeer stop. Sy beland toe onder die bakkie en my man is oor haar. Hy het nie geweet sy is naby nie, want sy is mos by my… dit was ‘n kwessie van 4 sekondes. Ek gaan nie te veel detail gee nie…
My man het gestop en geskree en ek was daar. Ek kan nie beskryf hoe dit gevoel het om daai prentjie te aanskou van jou kind se gesig wat stukkend is en basies verwoes is op daai stadium. Dit is iets wat jy nie kan oorvertel nie. Ek kon dit nie glo nie, ek wou dit nie glo nie, dit was die slegste ergste ding wat ek ooit gedink het met ons kon gebeur… oordeel is maklik maar ‘n ongeluk gebeur so vinnig. Ons het in die kar gespring en my ouers gebel om so gou moontlik te kom om ons seuntjie te kry. Dankie tog hulle bly net in die plaaspaadjie af. Hulle het vir Joshua gekry en my pa se enigste woorde aan ons was: “Ry, sy gaan ok wees”
Ons het heelpad gebid en gehuil en die Here geroep en gesmeek om ons kleine dogtertjie se lewe te spaar terwyl sy in my arms lê en skreeu van die pyn. Ek het gewens ek kon iets doen, maar al wat ons kon doen, was bid… Ek het my skoonma gebel en gevra dat sy asb. die ambulans moet bel om ons op pad te kry. Sy het ook die hospitaal gebel om reg te maak vir Jana wat op pad is Mediclinic Potch toe. Die pad het so lank gevoel en 180 km/h was nie vinnig genoeg nie… Net buite Ventersdorp het die ambulans ons gekry, ons het oorgeklim… en soos ek in die ambulans sit met die deur oop terwyl hulle vir Jana op my bors probeer stabiel en rustig kry, kyk ek kant toe en ek sien net my man wat op sy knieë langs die pad in die gras neerval en skree en na God roep en huil… Net daar toe weet ek my man tree in vir haar en ek weet hy is die hoof van ons gesin en ons gaan regtig ok wees!! Ons kind gaan ok wees.
In daai oomblik vrae mens nie vrae nie. Jy bid en bid en bid en hou net aan bid en dankie dat ons dadelik geweet het net die Here en geloof sal ons help. Ons weet ons krag kom van die Here af, Hy moet nou oorvat..”
Shanel Kock het intussen vyf dae gelede ‘n skarebefondsingsprofielvir Jana oopgemaak. Daar is beoog om R300 000 in te samel, maar die teiken is reeds ver verbygesteek. Druk hier om toegang na haar BackaBuddy-profiel te verkry. Nadat die profiel oopgemaak is, is daar reeds meer as R350 000 ingesamel, wat meer is as die beoogde R300 000.
Kock vra dat daar steeds vir herstel teen infeksies gebid moet word, sodat die kleuter gou weer haar ou self sal wees en op die plaas kan rondhardloop. Gebede is ook vir Kelly en Shaun gevra; “Dat hulle krag, moed en rus in God se arms sal vind in hierdie moeilike tyd. Soos Mamma Kelly so mooi sê: “Ons glimlag, want ons God is groot en almagtig – en ons kind leef.”
“Die toekoms bly onseker met nog verskeie toetse en operasies wat voorlê. Enige bydraes om die finansiële uitdagings van mediese bybetalings, tyd weg van werk, rehabilitasie, verblyf naby die hospitaal ens. te help dra, sal met groot dankbaarheid waardeer word,” sê Kock op die BackaBuddy-profielblad.
Druk hier om die BackaBuddy-profiel te sien.




