NVG sê Matlala se besluit sal nie saak ontspoor nie

Lees ook :

Foto: Matjhiding News Updates

GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sê Vusimuzi “Cat” Matlala se besluit om aan sy pleit-en-vonnisooreenkoms te onttrek, sal nie die korrupsiesaak teen hom en sy 16 medebeskuldigdes benadeel nie. Die landdroshof vir gespesialiseerde handelsmisdade in Pretoria het die voorgestelde vonnis verwerp en die partye tyd gegee om die hof se voorgestelde vonnis van 12 jaar gevangenisstraf te oorweeg.

Kaizer Kganyago, NVG- nasionale woordvoerder, sê Matlala het vroeër skuldig gepleit op aanklagte wat verband hou met die Medicare 24-kontrak in die Tshwane-distrik. Hy is destyds van sy medebeskuldigdes se saak geskei nadat hy ‘n skuld-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het. Matlala het intussen besluit om nie meer met die ooreenkoms voort te gaan nie.

Volgens die NVG het Matlala aanvanklik uit eie beweging die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) genader met ‘n voorstel vir ‘n skuld-en-vonnisooreenkoms, waarna onderhandelinge tussen sy regsverteenwoordigers en die staat gevolg het. Die saak is nou tot 11 September uitgestel. Matlala sal dan weer saam met sy 16 medebeskuldigdes op aanklagte teregstaan omdat die skuld-en-vonnisooreenkoms nie meer van krag is nie. Die NVG sê hy is steeds oortuig dat daar genoeg bewyse is om die saak teen al 17 beskuldigdes voort te sit.

Adv. Andy Mothibi, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, sê skuld-en-vonnisooreenkomste is ‘n wettige en strategiese meganisme om lang hofverrigtinge te verkort en samewerking van beskuldigdes te verkry. Dit beteken volgens hom nie dat die staat nie vertroue in sy saak het nie. Mothibi het voorts gesê adv. Andrea Johnson, die hoof van Idac, moes voor die Madlanga-kommissie verskyn het, maar kon weens swak gesondheid nie die sitting bywoon nie. Hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om die kommissie toe te laat om sy werk sonder inmenging voort te sit.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief