GAUTENG. – Die departement van onderwys in dié provinsie (GDO) sê sommige skole se krag is afgesny omdat hulle nie hul elektrisiteitsrekeninge betaal het nie, al het hulle geld ontvang om dit te doen.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê die departement het reeds in November verlede jaar geld aan skole oorbetaal om onder meer elektrisiteitsrekeninge te dek en ontken dat skole met ou skuld belas is. Hy sê skole en hul beheerliggame is ook vroeër ingelig dat hulle self verantwoordelik is om dié geld te gebruik om hul rekeninge te betaal. Volgens die departement is dit kommerwekkend dat sekere skole steeds agterstallig is, ondanks finansiële toekennings en duidelike riglyne.
In Eldorado Park het verskeie skole spesifieke bedrae ontvang om hul skuld te delg, maar probleme met betalings duur voort. Laerskool Kliptown R233 167, Laerskool Heerengracht R358 739, Hoërskool Eldoradopark R523 503 en Hoërskool Eldomaine R512 306.
Die GDE doen ’n beroep op skole om met munisipaliteite te praat en planne te maak om hul skuld af te betaal. Die volgende rondte befondsing vir die 2026/27-boekjaar sal teen middel Mei uitbetaal word om skole met hul lopende uitgawes, insluitend dienste, te help. Die departement sê hy is ook in gesprek met munisipaliteite om te keer dat krag afgesny word, aangesien dit leer en onderrig benadeel.
Matome Chiloane, LUR vir onderwys in die provinsie, sê daar word saam met munisipaliteite gewerk om seker te maak skole betaal hul rekeninge en gebruik geld waarvoor dit bedoel is.






One Response
lqlp6o