Die polisie sê ’n formele ondersoek deur ‘n gespesialiseerde span is van stapel gestuur ná ontploffings by Woolworths-winkels in die Vrystaat en Gauteng. Owerhede sê dit is tans te vroeg om die voorvalle as terrorisme te klassifiseer.
Brig. Athlenda Mathe het bevestig dat die polisie ‘n nasionale forensiese taakspan, saam met misdaadintelligensiedeskundiges ontplooi het om die ontploffings te ondersoek. Volgens die polisie is die ondersoek nog in ’n baie vroeë stadium en alle moontlike verklarings en motiewe word oorweeg. Die polisie beklemtoon dat die situasie fyn dopgehou word en dat enige bykomende veiligheidsmaatreëls op die bevindinge van die ondersoek en beoordeling van die bedreiging gebaseer sal wees.
Die publiek word versoek om kalm te bly en die polisie toe te laat om hul werk sonder inmenging voort te sit.





