OOS-KAAP. – ‘n Intelligensiegedrewe operasie het Saterdag tot die ontdekking van vuurwapens en ammunisie gelei, waarna ‘n verdagte (37) in hegtenis geneem is.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê inligting is ontvang van twee mans, na bewering in besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, wat by misdade in en om Mbizana betrokke is. Die huis in die Ngcingo-woonbuurt in Amangutyana- administratiewe area in Mbizana is takties benader en toegang is verkry.
“Tydens deursoeking is ‘n sportsak met vier vuurwapens en ‘n tuisgemaakte vuurwapen binne-in onder ‘n bed versteek, gevind. ‘n Lisensie vir die vuurwapens kon nie getoon word nie.”
Beslag is gelê op ‘n Vektor-geweer waarvan die reeksnommer afgevyl is, met ‘n magasyn met 25 rondtes ammunisie, ‘n haelgeweer waarvan die reeksnommer afgevyl is met 14 rondtes, ‘n Vektor 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is en ‘n magasyn met veertien rondtes, ‘n .38 Special-rewolwer met reeksnommer wat afgevyl is en ‘n rondte ammunisie, ‘n tuisgemaakte vuurwapen met geen reeksnommer nie, 22 x 9 mm pistoolrondtes ammunisie, pare handskoene en vier selfone.
Die verdagte is op aanklagte van die ongelisensieerde besit van vuurwapens en ammunisie gearresteer en sal vandag in die Mbizana-landdroshof voorkom.





