MPUMALANGA. – Wilhemina Jacoba (75) en Phakamani Hlongwane (36) het Maandag in die Secunda-landdroshof verskyn, nadat hulle na bewering betrokke was by die herverpakking en verspreiding van vervalde en vrot kos vir menslike verbruik.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê die twee het hulle aan die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Secunda oorgegee. Hulle verwantskap met Pieter Grobler (31), Mark Lombard (29) en Sonnet Lombard (46), wat vroeër in hegtenis geneem is, word ondersoek.
Volgens die Valke het die ondersoek begin ná ’n wenk oor onwettige bedrywighede op ’n plaas in Charl Cilliers. Tydens Grobler se inhegtenisneming is voertuie, koelkamers en groot hoeveelhede vrot en vervalde voedsel gekonfiskeer en later vernietig.
Die vyf beskuldigdes word aangekla van oortreding van die Wet op Voedingsmiddels, Kosmetiese middels en Ontsmettingsmiddels, asook korrupsie, bedrog en geldwassery.
Jacoba en Hlongwane is elkeen op R2 500 borgtog vrygelaat en moet op 6 Februarie 2026 weer in die hof verskyn.
8





