MPUMALANGA. – Mark Lombard (29) en Sonnet Lombard (46) is Dinsdag vir die herverpak en verkoop van vervalde en vrot kos vir menslike gebruik in hegtenis geneem. Hulle is glo familie van Pieter Grobler (41) wat gedurende Februarie 2025 op ‘n plaas in Charl Cilliers in hegtenis geneem is en later op R8 000 borgtog vrygelaat is.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die Lombaards het Dinsdag vlugtig in die Secunda-landdroshof voorgekom, waarna hulle op waarskuwing vrygelaat is. Die twee verdagtes het glo met Grobler saamgesweer om bedrog en geldwassery te pleeg. Hulle is gewaarsku om weer op 1 Augustus saam met Grobler in die hof te verskyn. Tydens Grobler se inhegtenisneming is verskeie items, insluitend ’n vragmotor, twee ligte afleweringsvoertuie, sewe yskaste en ander items, op die toneel gevind. Hierdie items is onderhewig aan verdere ondersoek.
Brig. Danie Hall, die waarnemende provinsiale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke in Mpumalanga, het die ondersoekspan sowel as die ondersteuningspan geloof vir die goeie werk om ander verdagtes in hierdie saak op te spoor.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





