NOORDWES. – Forensiese patologiese dienste in dié provinsie ontken dat hulle nie die aantal liggame van onwettige myners van Stilfontein kan hanteer nie.
Tshegofatso Mothibedi van die departement van gesondheid bevestig dié departement se gereedheidsplan is Dinsdag tydens ‘n inligtingsessie by Stilfontein deur die LUR, Sello Lehari, goedgekeur en bekend gemaak. ‘n Aantal forensiese patologiese dienste is geïdentifiseer om die liggame ná die reddingsoperasie te hanteer. Liggame wat van Maandag tot Woensdag van ondergronds gebring is, is aan die departement oorhandig.
Mothibedi sê selfs mediese personeel is aangevul deur onder meer verpleërs, radiografiste en dokters te kontrakteer. Bystand met DNS-prosesse om die oorledenes te identifiseer, word verleen. Nadoodse ondersoeke word gedoen om vas te stel of die oorledenes as gevolg van honger, siekte of beserings gesterf het.
‘n Totaal van 87 liggame is in ontvangs geneem, terwyl die provinsiale patologiese dienste plek vir liggame by die Dr. Kenneth Kaunda- en Bonjala-distrikte het. Die provinsie beskik oor 20 voertuie wat elk vier liggame kan vervoer. Alhoewel al die liggame in Noordwes bly, is Gauteng se hulp ingeroep om die liggame na lykshuise te vervoer.