GAUTENG. – Peet (Petrus Jacobus) Viljoen (57) het Donderdag vlugtig in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie, diefstal, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente. Die saak behels altesaam sowat 400 aanklagte wat na bewering ’n bedrag van R27 miljoen beloop.
Viljoen is aanvanklik in 2010 in hegtenis geneem, maar die saak moes later van voor af voor ’n ander landdros begin. Hy het die land in Mei 2025 verlaat net voordat dit weer aangehoor sou word en is weer op 16 Junie 2026, nadat hy uit die VSA gedeporteer is, op die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem.
Volgens Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, hou die aanklagte verband met beweerde onwettige eiendomstransaksies wat tussen Januarie en Maart 2010 plaasgevind het. Viljoen en vyf ander verdagtes wat nog nie in die hof verskyn het nie, sou glo 46 eiendomme van die Stad Johannesburg sonder die Stad se medewete aan kopers verkoop het. Die staat beweer dat vervalste dokumente gebruik is om die eiendomme oor te dra. Dit sluit onder meer koopkontrakte, amptelike resolusies, volmagte en beëdigde verklarings in wat valslik opgestel is.
Daar word ook beweer dat ’n adjunkregistrateur by die departement van grondsake omgekoop is om die oordragte te verwerk. Die onreëlmatighede is ontdek tydens ’n oudit van die Stad Johannesburg se vaste bates. Die Stad is daarna hof toe en daarin geslaag om die eiendomme terug te kry.
Die saak is vir verdere ondersoek en ‘n borgtogaansoek tot 26 Junie uitgestel. Die staat beplan om borgtog teen te staan, terwyl die Valke se woordvoerder, lt.kol. Granville Mayer, bevestig het dat die ondersoek voortgaan.





