PRETORIA – Die Suid-Afrikaanse polisiediens het Vrydag ’n kontrak met ’n nuwe verskaffer geteken om die polisie van 13 verskillende tipe forensiese stelle te voorsien.
Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale kommissaris, sê die kontrak met die vorige verskaffer is in 2017 gestaak nadat bewerings van korrupsie tussen sekere polisiebeamptes en die verskaffer aan die lig gekom het.
Dit kom nadat ’n tekort aan verkragtingstelle volgens genl. Bheke Cele, minister van polisie, byna ’n katastrofe veroorsaak het.
Cele het gesê: “Ons het die noodsaak verstaan en het dit blitsvinnig reggestel. Ons sal vorentoe verseker dat dit nie weer gebeur nie.”
Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê ’n tussentydse plan is ingestel om voortaan dienslewering aan die publiek te bied, terwyl die nuwe verskaffer aangestel is.