Brekende Nuus
Nuus

Saak teen versorger ná Hayden (1) se dood uitgestel

Foto: Lee-roy Arendorff

WES-KAAP. – Die Swellendam-landdroshof het die saak teen die versorger (46) wat ná die dood van die 15 maande oue Hayden op aanklagte van moord en verkragting verskyn het, tot Dinsdag 1 Desember uitgestel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die hof het die saak uitgestel sodat die oppasser se prokureur formeel as haar regsverteenwoordiger op rekord kan kom en inligting oor borgtog ingewin kan word. Volgens die NVG kan die oppasser se naam in dié stadium nie bekend gemaak word nie, omdat sy op ’n seksuele misdryf aangekla word en nog nie gepleit het nie.

Nuusflits het vroeër oor Hayden se dood in Railton, Swellendam, berig. Volgens die polisie is die kleuter op 27 Oktober omstreeks 18:30 sonder reaksie op ’n bed in ’n woning aangetref. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Die polisie het aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Ná die nadoodse ondersoek is ’n moordsaak geopen en ’n aanklag van verkragting later bygevoeg. Die oppasser is op 20 November in hegtenis geneem.

Lees ook – Vrou vas ná dood van 15 maande oue seuntjie in Swellendam