WES-KAAP. – ’n 50-jarige polisiekaptein en ’n 38-jarige verdagte is vanoggend (Woensdag) in ’n skietgeveg in Knysna dood.
Brig. Novela Potelwa, polisieworodvoerder, sê die kaptein was deel van die taktiese reaksiespan en is in die gebied ontplooi as deel van die ondersoek na die moord op Knysna se voormalige burgemeester en raadslid, Aubrey Tsengwa, asook twee ander mense wat verlede week in afsonderlike skietvoorvalle dood is.
Die polisie het in die vroeë oggendure inligting oor onwettige vuurwapens by die Sewende Laan- informele nedersetting op die Uniondale-pad opgevolg toe die skietgeveg uitgebreek het. Die verdagte is ook in die skietgeveg dood. Twee vuurwapens is volgens die polisie in sy besit gevind. Drie verdagtes het reeds in verband met Tsengwa se moord in die hof verskyn. Ondersoeke na die moorde op Mandla Matiwane en Mandla Tyololo duur voort.
Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het sy medelye met die kaptein se familie, kollegas en die lede wat tydens die operasie saam met hom was, betuig. “Een van hulle het nie huis toe gekom nie,” sê Cameron. Cameron sê die voorval moenie bloot as nog ’n operasionele sterfte aangeteken word nie. Hy vra vir ’n volledige ontleding van wat gebeur het, behoorlike ondersteuning aan die betrokke polisiebeamptes en ’n deeglike ondersoek na die twee vuurwapens wat gevind is, insluitend of dit met ander misdade verbind kan word.