Polisielid wat glo vrou in selle verkrag, borg geweier

'n Polisielid wat glo 'n vrou in die selle verkrag het se aansoek om borg is geweier. ...

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – ‘n Polisielid van Citrusdal wat glo op 1 Maart in die vroeë oggendure ‘n vrou in die polisieselle verkrag het, se aansoek vir borg is in die Citrusdal-landdroshof geweier en hy bly in aanhouding.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die slagoffer se man het die betrokke aand glo ‘n aanrandingsklagte teen haar gemaak. Sy is in hegtenis geneem en is na bewering deur die polisielid in die selle verkrag. Toe hy haar glo ‘n tweede keer wou verkrag, het sy teen hom baklei en die verkragting gekeer.

Die vrou het die beweerde verkragting aan kollegas van die beskuldigde aangemeld, maar haar klagte het op dowe ore geval. Eers toe dagskofpersoneel aan diens gekom het, is sy ernstig opgeneem. Die polisielid is vir verkragting en poging tot verkragting in hegtenis geneem.

Bradford Newman, waarnemende beheer-staatsaanklaer en Masixole Nzanzana, Opod-ondersoekbeampte, het tydens opponering gesê die polisielid is ‘n gevaar vir die mense van Citrusdal. Tydens die weiering van die polisielid se borgaansoek het die hof gesê die staat het ‘n prima facie-saak teen die beskuldigde en borgvrylating sal lei tot intimidering van die slagoffer. Persone gekoppel aan die verdagte het glo reeds gevra die slagoffer moet die saak terugtrek.

Newman het die erns van die misdaad aan die hof voorgehou en gesê die beskuldigde sal in alle waarskynlikheid weer ‘n skedule 1-misdaad pleeg indien hy borg sou ontvang. Hy het voorts gesê die beskuldigde is deur ‘n kamera-opname by die selle aan die misdade verbind. DNS-monsters moet nog analiseer word. Newman is egter oortuig dit gaan die polisielid ook aan die misdaad koppel.

Die staat het bewyse aangevoer van die beskuldigde wat glo seksuele aksies teenoor sy vroulike kollegas pleeg. Verder het die staat bewyse voorgelê van vals inhegtenisnemings deur die beskuldigde gemaak om sodoende seksuele toenadering by die maats van die mans te soek.

Die beskuldigde het ‘n verklaring afgelê waarin hy sê hy en die slagoffer het die middag van 29 Februarie en die aand wat sy nagskof begin het konsensuele seks gehad. Hy het glo haar sel binnegegaan om haar borgfoto te neem, waarop sy vrylating geëis het. Hy het volgens sy verklaring geweier en sy het glo gesê sy gaan ‘n klagte van verkragting teen hom indien.

Die hof het die slagoffer as geloofwaardig beskryf. Die geloofwaardigheid word ondersteun omdat die beskuldigde nie ontken het dat hy wel op kamera opgeneem is, in die selle ingegaan en sy semen op die kombers was nie.

Vir verdere ondersoek en totdat DNS-analise beskikbaar is, sal die beskuldigde in aanhouding bly totdat die saak op 14 Mei weer in die hof voorkom.

Lotto uitslae vir 20 April 2024

Groenewald en Greeff se appèl suksesvol

Omstanders gryp glo vrag van brandende vragmotor

Vier sterf in ongeluk naby Port Shepstone

Bejaarde man se liggaam by Gqeberha-gholfklub gevind

Man wat vrou vermoor, opsny en kook se parool weer geweier

Willem Botha spog met eie parfuum

Onbekende mans sterf toe vragmotor hulle voertuig tref

Mooiweer die naweek verwag

Universiteit van Fort Hare gee binnekort graad aan 19-jarige

Powerball uitslae vir 19 April 2024

Man kry lewenslange vonnis vir verkragting van meisie (12)

Boer soek ’n Vrou se PF en Chantelle verwag ’n dogtertjie

Verdagte op rooftoneel doodgeskiet

 Kyk: Jan Jan Jan en dansende Kwagga vermaak