GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het deur sy eenheid vir batebeslaglegging ’n hofbevel verkry om ’n luukse-eiendom in Hartbeespoort ter waarde van ongeveer R6 miljoen te bevries. Dit hou verband met ’n korrupsiesaak waarin regter Portia Dipuo Phahlane en verskeie mede-beskuldigdes teregstaan.
Kaizer Kganyago, nasionale NVG-woordvoerder, sê die eiendom, wat in 2022 aangekoop is, word glo deels verbind aan die opbrengs van onwettige aktiwiteite soos korrupsie en geldwassery. Die hooggeregshof in Pretoria het die bevel toegestaan wat enige verkoop of oordrag van die eiendom verbied en dit onder beheer van ’n kurator van goedere (curator bonis) plaas totdat verbeuringsverrigtinge afgehandel is.
Die saak vorm deel van ’n voortgesette vervolging in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad in Pretoria, waar ses beskuldigdes, insluitend Phahlane, tans teregstaan. Die ondersoek, deur die Valke beweer dat ’n korrupte reëling tussen laat 2021 en vroeg 2022 ontstaan het waarin onder meer ’n kerkfaksieleier en ’n hofvertolker betrokke was, met beweerde kontantbetalings en pogings om die uitkoms van ’n hangende kerkgeskil te beïnvloed.
Volgens die NVG is die bevriesingsbevel deel van ’n breër ondersoek en kan verdere vervolgings volg, terwyl die NVG beklemtoon het dat geen persoon bo die reg staan nie en dat korrupsie binne instellings wat die regstelsel ondersteun, die publiek se vertroue ernstig skaad.




