NOORDWES. – Edward Kgomotso Madiba, ’n veroordeelde gevangene wat Sondag uit die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng ontsnap het, is Woensdag weer in Brits in hegtenis geneem. Madiba het ontsnap terwyl hy ‘n 20 jaar-vonnis vir roof met verswarende omstandighede, die besit van ’n vuurwapen en ammunisie, ontvoering en die oortreding van paroolvoorwaardes uitgedien het.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisneming volg nadat die polisie inligting oor Madiba se bewegings in die Bojanala-distrik ontvang het. Die Brits-speurtak het inligting ontvang wat daarop gedui het dat Madiba tussen Brits en Damonsville beweeg. ’n Gesamentlike soektog deur die polisie, korrektiewe dienste en die plaaslike boeregemeenskap is van stapel gestuur nadat Madiba opgemerk is. Hy is uiteindelik by ’n gelisensieerde drankrestaurant in Brits opgespoor en in hegtenis geneem. Madiba is aan korrektiewe dienste oorhandig en na Rooigrond teruggeneem. Hy sal na verwagting ook verder vir ontsnapping uit wettige aanhouding aangekla word
Lt.genl. Arthur Adams, die provinsiale polisiekommissaris, het die betrokke polisiebeamptes, korrektiewe dienste, boere en lede van die publiek bedank wat met inligting gehelp het om Madiba op te spoor.