Ek is al sedert 2009 in die geloof, en ek kan eerlik sê: dis nie ’n maklike pad om te loop nie. Dikwels voel ek soos die rotse op ’n strand wat vir jare lank genadeloos deur die branders geslaan word.
Een aand, jare gelede, het ek ’n goddelike droom van die Here ontvang. Jy weet hoe moeilik dit is om ’n droom akkuraat te beskryf – dit is dikwels deurmekaar, vol simboliek, en maak nie altyd sin in menslike terme nie. Tog verstaan jy soms dinge binne die droom wat jy buite dit nooit sou kon verstaan nie.
Kortliks het ek gedroom dat ek drie toetse moet slaag. Dit was egter nie gewone pen-en-papiertoetse nie – dit het afgespeel soos ’n videospeletjie. Die eerste stage was verbasend maklik en gou verby; ek was selfs verbaas oor hoe eenvoudig dit was. Toe die tweede toets begin, was ek vol selfvertroue en het gedink dit sou net so maklik wees. Ek was verkeerd. Dit was die moeilikste toets wat ek nog ooit ervaar het – soos die verskil tussen ’n laerskooltoets en jou matriekeindeksamen!
Daardie kort, maar uitmergelende toets het my van alle kante getref; ek het gevoel asof ek van ses kante gelyktydig aangeval word. Tog het ek, om redes wat ek nie kon verduidelik nie, geweet ek het dit net-net geslaag. Twee toetse was dus verby en die derde was op pad. Logika het vir my gesê dat dié laaste een ’n riller sou wees, en dat ek dit nooit sou kon slaag nie.
Toe die toets begin, was dit inderdaad moeilik, maar nie erger as die tweede nie. Ek het begin hoop kry dat ek dit dalk kon maak. Maar die toets het net aangehou en aangehou, sonder einde. Ek het die Here gevra wat aangaan, want dit het gevoel asof die game gebreek het. En toe, na wat soos ’n ewigheid gevoel het, hoor ek ’n lied in die agtergrond speel – een wat eindig met woorde wat tot vandag toe in my geheue ingebrand is:
“Ek sal jou skrik maak met die glorie van die doolhof.”
Na diepe gebed en ondersoek het ek die uitleg van die droom ontvang. Kortliks: die drie toetse verteenwoordig die fases van ’n gelowige se lewe.
Ná bekering gebeur dinge dikwels vinnig en maklik. Jy’s vol vuur en ywer vir die Here, en jy oorkom baie uitdagings deur Sy krag. Daarna raak dinge moeiliker. Jy gaan deur woestynperiodes waar dit voel of jy dit nie gaan maak nie, maar as jy aan Hom vashou, kom oorwinning.
Die laaste groot toets is nie noodwendig op iets spesifieks gemik nie, maar is die toets van tyd om te sien of jy jou geloof kan behou oor die lang pad. Ná jare se versoekings en stryd kan jou skild dalk effens gly. Jy raak moeg en afgemat van die voortdurende geveg teen die wêreld se sondige begeertes, teen die aanvalle van die vyand, en selfs teen teleurstellings deur mense naby aan jou. Hierdie is die moeilikste toets – die een wat jy moet slaag om uiteindelik die kroon van die lewe te ontvang.
Ek sê nie dat elke gelowige se fases presies dieselfde verloop nie. Dalk was hierdie droom net vir my bedoel, maar ek glo daar is ooreenkomste.
Waarom het manne soos Dawid en Salomo, wat soveel oorwinnings behaal het en beter moes geweet het, tog in hul oudag geval? Maar tog skep ek moed uit die voorbeeld van Paulus en die apostels wat die wedloop volhard het – en veral uit Jesus Christus, wat tot op Sy laaste asem nie gesondig het nie, en deur Sy oorwinning vir ons die ewige lewe gebring het.
Ek sluit af met daardie laaste woorde uit my droom:
“Ek sal jou skrik maak met die glorie van die doolhof.”
Miskien voel jou lewe tans ook soos ’n doolhof. Jy kan nie ver vooruit sien nie, dit is deurmekaar en selfs skrikwekkend. Vyf jaar gelede sou jy nooit kon dink dat jou lewe só sou verander, of dat jy soveel swaarkry sou deurmaak nie. En dalk, oor vyf jaar van nou af, voel jy weer so. Maar aan die einde van jou lewe, wanneer jy terugkyk, sal jy die glorie van God in elke hoek en draai van daardie doolhof raaksien en Hom eer dat Hy jou hand nooit laat gaan het nie.
Hebreërs 13:14
“Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.”
Filippense 3:20
“Maar ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus.”





