GAUTENG. – ‘n Suid-Afrikaanse vrou (23) is Vrydag by die OR Tambo Internasionale Lughawe, vanwaar sy onderweg was na Tokio, in hegtenis geneem toe X-strale kapsules in haar liggaam gewys het. Ten tyde van haar inhegtenisneming het sy reeds 28 van die kapsules wat vermoedelik dwelmmiddels bevat, uitgeskei.
Lt.kol. Vincent Mukhathi, polisiewoordvoerder, sê grenspolisie het op grond van operasionele inligting opgetree en die vrou onderskep voordat sy aan boord van ‘n regstreekse vlug na Tokio kon gaan. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat sy eers op ‘n binnelandse vlug was voordat sy haar reis na die buiteland wou voortsit.
‘n X-straalondersoek is gedoen. Kapsules wat onder mediese toesig uitgeskei is, sal forensies ontleed word. Die polisie sê die presiese soort dwelm en die straatwaarde daarvan sal eers bepaal word sodra die forensiese toetse afgehandel is.
Die beskuldigde sal na verwagting Maandag 29 Junie in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte wat met dwelmhandel verband hou.





