Daar was vanoggend n staking in dele van Homevale nadat die krag sedert 10:30 gisteroggend af was.
“So toe staak ons”
“Die krag het gisteroggend ongeveer 07:30 afgegaan en het weer omstreeks 10:30 aangekom, maar het kort daarna weer afgegaan. Die krag het nie weer vir die dag aangekom nie en vir meeste van vandag ook nie,” bevestig Ben Mhlaba, ‘n lid van die gemeenskap. “Ons het gevoel daar moet gehoor gegee word daaraan, so toe staak ons deur om motorbande te brand.”
Nat drade veroorsaak die kragonderbrekings
Clifford Lewis, ’n raadslid van die munisipaliteit, het bevestig dat dele van die kragdrade nie meer geseël is nie “Wanneer dit reën, raak die drade nat en veroorsaak dan dat die krag afgaan.”
Ons maak staat op die gemeenskap
“Ons is nou besig om ‘n ‘drop out fuse link’ te vervang. Die drade word baie vinnig warm as iets nie reg is nie, wat veroorsaak dat die drade dan brand,” sê Joseph Ngozo, die elektrisiteitsvoorman by die Sol Plaatje-munisipaliteit.
“Een van die transformers het ook geblaas, so dit sal môre vervang word. Ongelukkig kan ons nie die krag toets deur middel van ‘n “druktoets” nie en maak ons op die gemeenskap staat om ons te laat weet indien die krag afgaan. Hopelik is die probleem nou uitsorteer, maar kan ons eers vir seker weet wanneer dit weer gereën het.”
Tekkies en voëlneste
“Daar was ook vreemde voorwerpe (foreign material) oor die drade, soos tekkies en voëlneste, wat deel kan wees van die probleem. Ons het alles nou verwyder en hoop dat die probleem nou opgelos is,” verduidelik Ngozo.