GAUTENG. – Twee verdagtes is op 23 Julie gedurende Operasie Cyclone II deur die polisie in hegtenis geneem toe op verskeie vervalste dokumente en elektroniese toerusting beslag gelê is.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoorder, sê vroeër vandag (Donderdag) in ‘n verklaring 42 groen identiteitsdokumente, 6 slim-ID-kaarte, paspoorte, vals bestuurderslisensies, SIM-kaarte van verskeie netwerke, Umalusi-matrieksertifikate, motorvoertuiglisensieskywe, skootrekenaars, drukkers, en eksterne hardeskywe is deur die polisie as bewysstukke ingehandig. Die polisie het bevestig dat hierdie inhegtenisnemings deel is van ’n groter poging om georganiseerde misdaad en dokumentbedrog in gebiede soos Soshanguve, Jukulyn, Mabopane en Hammanskraal hok te slaan.
“Ons fokus bly daarop om gemeenskappe te beskerm deur misdaadnetwerke te ontbloot en uit te skakel,” lui die verklaring.





