WES-KAAP. – Twee mans is in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met openbare geweld in Happy Valley en sal in die Bluedowns-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is. Volgens die polisie is bewerings dat ’n tweejarige kind as gevolg van die protes en die gebruik van traangas gesterf het, ongegrond. Die Bluedowns-hof moes gister weens ‘n protesaksie gesluit word.
Lt.kol. Malcolm Pojie, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits ’n saak van openbare geweld is geregistreer ná protesoptrede deur ontevrede inwoners van Happy Valley naby Blackheath Industria. Openbare Orde Polisiëring (OOP/POP) en ander wetstoepassingsagentskappe is na die gebied ontplooi en het kalmte herstel nadat hulle die oproerige skare, wat bande aan die brand gesteek en klippe na verbygaande motors gegooi het, uiteengedryf het. Die polisie het bevestig dat verhoogde sigbaarheid deur POP en ander geïntegreerde magte gehandhaaf sal word totdat die gebied gestabiliseer is.
Volgens die polisie is bewerings dat ’n tweejarige kind as gevolg van die protes en die gebruik van traangas gesterf het, ongegrond. Inligting dui daarop dat die moeder en kind tussen 06:00 en 07:00 deur polisielede na die Eerste River-daghospitaal geneem is, nadat die moeder hulle genader het met haar siek kind. Nooddienspersoneel kon weens die risiko van die protesaksie nie die gebied binnegaan nie. Gevolglik het polisielede ingegryp en hulp verleen, lank voordat die oproerige skare ná 09:00 uiteengedryf is.
Twee mans is tydens die voorval in hegtenis geneem en sal in dieselfde hof waar die protesaksie geloods is op aanklagte verskyn.





