OOS-KAAP. – Nompelo Maloyi (37) en Yithulwazi “Lwazi” Kay (35) is deur die hooggeregshof in die provinsie vir moord met voorbedagte rade gevonnis. Die moordenaars het Mynhardt Maloyi vermoor om versekeringsgeld te probeer bekom.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê Mynhardt Maloyi was die een beskuldigde se oom aan moederskant en die ander beskuldigde haar buurman, Kay. Nompelo Maloyi het verskeie versekeringspolisse op haar oom se lewe uitgeneem, waarvan sy as die begunstigde benoem is. Die polisse sou R165 000 uitbetaal. Sy het Kay se hulp ingeroep om haar oom vir R20 000 om die lewe te bring.
Op die betrokke aand van 25 November 2022 het Nompelo Maloyi haar kind by die ander bure gelos. Kay was met ‘n mes bewapen en hulle is na die oorledene se huis in dieselfde area. Nompelo Maloyi was haar oom se versorger en het seker gemaak hulle kan die huis binnegaan.
“Toe hulle binne is, het hulle Mynhardt aangerand, sy hande en voete met sy skoenveters vasgebind, hom met ‘n stomp voorwerp op die kop geslaan en hom verskeie kere in die nek gesteek. Hy het aan sy beserings beswyk en is op die toneel dood. Sy lewelose liggaam is die volgende oggend ontdek.”
Na die moord het Nompelo Maloyi versekeringseise ingedien. Kay het egter al die planne in duie laat stort toe betaling nie gegaan het soos dit moes nie en Nompelo Maloyi begin dreig. Weereens het Maloyi individue genader om die uitstaande bedrag aan Kay vir haar te leen, of hom te elimineer.
“Tydens haar arrestasie het Nompelo ‘n bekentenis aan ‘n mede-aangehoudene gemaak en kritieke besonderhede verskaf. Die inligting wat Nompelo verskaf het, was nie deur die polisie aangehits nie en het ontstaan as gevolg van die natuurlike gesprek tussen die twee vroue. Hierdie onverwagse bekentenis het ‘n beduidende rol in die polisie-ondersoek gespeel, wat ander bewysstukke gestaaf het en gehelp het om ‘n omvattende prentjie van die misdaad te skets. Hierdie bekentenis en ander staatsgetuies het gehelp om ‘n sterk saak te bou teen die twee wat hul onskuld regdeur die verhoor betoog het.”
Adv. Sibusiso Mgenge het die afwesigheid van berou en die pogings om blaam te verskuif, benadruk. Mgenge het vir ‘n lewenslange vonnis gehoop, maar die hof het wesenlike en dwingende omstandighede vir ‘n verminderde vonnis gevind.
“Al beoog die aanklaer om teen ‘n oënskynlik onvanpaste ligte vonnis te appelleer, het mnr. Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging (DOV), die deeglike ondersoek wat deur die polisie gedoen is en die dapperheid van gemeenskapslede wat na vore gekom het met belangrike inligting, geprys.”
Elkeen van die beskuldigdes is tot 26 jaar gevangenisstraf gevonnis.