Vandag 4 Julie word Alice in Wonderland-dag wêreldwyd gevier – ‘n dag wat die verbeeldingryke wêreld van Alice in Wonderland en sy skrywer, Lewis Carroll, vereer.
Die dag herdenk ‘n bootvaart op 4 Julie 1862 toe die wiskundige Charles Dodgson, beter bekend onder sy skrywersnaam Lewis Carroll, saam met die 10-jarige Alice Liddell op die Teemsrivier gevaar het. Tydens die uitstappie het hy vir haar die verhaal vertel van ‘n meisie wat in ‘n haasgat afval en in ‘n wonderlike fantasiewêreld beland. Daardie storie sou later een van die bekendste kinderboeke ter wêreld word.
Ter viering van die dag bied The Story Museum in Oxford jaarliks Alice’s Day aan, met aktiwiteite soos lewendige storievertellings, ‘n verkenning van Wonderland, ‘n middagtee met ‘n Alice in Wonderland-tema en ‘n Victoriaanse “magic lantern”-vertoning.
Die oorspronklike boek, Alice’s Adventures in Wonderland, is in 1865 gepubliseer. Die vervolg, Through the Looking-Glass, het in 1871 verskyn. Die verhaal is sedertdien in 175 tale vertaal, met duisende uitgawes wêreldwyd. Die skrywer André P Brink het die verhaal in Afrikaans vertaal – Alice deur die Spieël.
Daar was ook ongeveer 60 literêre hervertellings, meer as 40 rolprente en meer as 30 verhoogverwerkings, benewens talle televisiereekse, ballette, operas, musiekblyspele en videospeletjies.
Wie onthou nie dié bekende sêgoed soos dié uit die boek nie?
Alice:“Who in the world am I? Ah, that’s the great puzzle.”
Cheshire-kat:“Oh, you can’t help that. We’re all mad here.”
Die Hoedemaker (Mad Hatter):“Why is a raven like a writing desk?”
Die Hartekoningin (Queen of Hearts):“Off with their heads!”
Die Wit Konyn (White Rabbit):“Oh dear! Oh dear! I shall be too late!”
Bronne: The Story Museum, Encyclopaedia Britannica en Project Gutenberg





