Vermiste stapper se liggaam op staproete gevind

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – ‘n Stapper wat Dinsdag sy groep op die Otter-staproete in Tsitsikama in die Tuinroete Nasionale Park vooruitgegaan het en vermis geraak het, se liggaam is gevind.

JP Louw van SANParke sê die stapper is op die betrokke dag omstreeks 13:00 laas gesien. Hy het egter nie by die oornaghut opgedaag nie.

SANParke-veldwagters en die NSRI het Dinsdag omstreeks 15:40 in gure weer, groot golwe en vol riviere na die vermiste man begin soek. Die soektog is die nag afgelas en met eerste lig Woensdag hervat. Die polisie se soek-en-reddingspanne het by die soektog aangesluit.

Louw sê die man se lewelose liggaam is by die Bloukransriviermond gevind.

Die oorledene se familie is in kennis gestel en word ondersteun. SANParke het medelye met die familie en vriende van die oorledene uitgespreek.

Die Otter-staproete bly oop terwyl die park se bestuur die situasie monitor.

“In die lig van die ongunstige weer monitor SANParke voortdurend toestande en stappers word afgeraai om vinnig vloeiende riviere of gebiede wat deur die hoë seetoestande geraak word, oor te steek.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App