Vier verdagtes vas na gewapende roof by Kimberley-hotel

Lees ook :

Die Kimberley-polisie het vanoggend 17 Februarie 2019 net na 10:00 vier gewapende verdagtes vasgetrek minute nadat hulle ’n eienaar van ’n bekende hotel in Kimberley beroof het.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, sê: “Die eienaar het na bewering opgekas en was op pad om die perseel te verlaat toe die vier gewapende verdagtes hom voorkeer. Die verdagtes het die sak waarin die dag se wins gebêre is by die eienaar gegryp. Die verdagtes het met ’n groot som geld in ‘n grys Toyota Yaris weggejaag. Die polisie het die voertuig agterna gesit en die verdagtes is in Cecil Sussmanstraat in die middestad vasgetrek. Die polisie het die geld teruggekry en het twee vuurwapens en die voertuig, wat in die misdaad gebruik is, gekonfiskeer.”

Lt. gen. Risimati Shivuri, die provinsiale kommissaris van die polisie in die Noord-Kaap, het C-Relief, die honde-eenheid en die blitspatrollie van Kimberley-polisie bedank vir hulle spoedige en professionele reaksie wat gelei het tot die inhegtenisneming van die vier verdagtes. Shivuri het ook die publiek vir hulle samewerking bedank.

“Die vier mans is van Soshanguve in die Gauteng-provinsie en Kuruman in die Noord-Kaap. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die verdagtes verantwoordelik was vir drie ander sake van gewapende roof wat onlangs in die Noord-Kaap plaasgevind het. Enige persoon met inligting wat die polisie kan help, kan vir adj. a.o. Patrick Dibebe van die Trio-misdaadeenheid by die Kimberley-polisiekantoor kontak. Die verdagtes sal vlugtig in Kimberley-streekshof verskyn,” sê Kock.

Van links: Ao. Carel Janse, konst. Margeret Coetzee, sers. Brigette Dikgetsi, konst. Mercia Dikgetsi (voor), ao. Roelf Dyers, sers. Riaan Ruiters en sers. Isaac Jantjies (agter) met die vier verdagtes.

Hoof foto van links: Ao. Carel Janse, konst. Margeret Coetzee, sers. Brigette Dikgetsi, konst. Mercia Dikgetsi (voor), ao. Roelf Dyers, sers. Riaan Ruiters, sers. Isaac Jantjies (agter) en ao. Tiaan le Roux met die vier verdagtes.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App