MPUMALANGA. – Twee verdagtes is Sondag deur die Skukuza-polisie in hegtenis geneem nadat hulle glo vir onwettige jag en betreding in die Krugerwildtuin betrap is.
Lt.kol. Jabu Ndubane en sers. Thulisile Magagula sê in ‘n gesamentlike verklaring veldwagters wat op patrollie in Blok 19 van die Skukuza-gebied was, het op spore van vier individue afgekom. Die spanne het onmiddellik ‘n soektog begin en vier mans gewaar. Toe hulle beveel is om te stil te staan, het die groep weggehardloop.
Twee verdagtes is egter kort daarna vasgetrek. Een van die mans wat gearresteer is, is ‘n voormalige veldwagter wat vroeër in die park gewerk het en in 2021 weens sy beweerde betrokkenheid by ‘n saak van sameswering om ‘n misdaad te pleeg, afgedank is. Die saak is tans nog in die Skukuza-streekhof aan die gang. Tydens sy inhegtenisneming is hy steeds in besit van ’n veldwagter-uniform gevind.
Volgens die polisie is die verdagtes met ‘n impalakop, ‘n dooie vlakvark en sewe jagstrikke betrap. Geen geldige jagpermitte kon getoon word nie.
Beide verdagtes het Maandag op aanklagte in die Masoyi- tydelike hof verskyn. Die moontlikheid van bykomende klagtes is nie uitgesluit nie.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi het sy kommer oor die insident uitgespreek: “Dit is kommerwekkend dat ’n voormalige veldwagter, wat reeds teregstaan vir kriminele optrede, weer by soortgelyke misdaad betrokke is. Dit wys op ‘n duidelike gebrek aan berou. Ons vertrou dat die Nasionale Vervolgingsgesag gepas sal optree.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





