Brekende Nuus
Nuus

Vrou deur Powervan in Outeniekwaberge getref

Foto: Powervan George

WES-KAAP. – ’n Vrou is Saterdag 14 November beseer toe ’n Powervan-trein haar op ’n spoorlyn in die Outeniekwaberge naby George getref het. Sy was volgens Powervan George een van vier mense wat op die spoor geloop het. Die ander drie het betyds uit die pad beweeg.

Powervan George se bestuur sê die voorval het sowat twee tot drie kilometer van die naaste punt wat met ’n bakkie of viertrekvoertuig bereikbaar is, plaasgevind. Die onderneming het ’n geskeduleerde passasiersrit gekanselleer en die trein gebruik om mediese personeel na die vrou te neem. Volgens die bestuur het die diensdoende dokter later gesê sy het geen kopbesering, inwendige bloeding of beenbreuke opgedoen nie en is sy nog dieselfde dag na ’n gewone saal in ‘n hospitaal oorgeplaas.

Die bestuur vra stappers en fietsryers om van die aktiewe spoorlyn weg te bly en waarsku dat ’n trein nie kan uitswenk of onmiddellik tot stilstand kan kom nie.

In ‘n aparte plasing sê Powervan George treine het altyd voorrang op die spoor. Hoewel treine gewoonlik van ver af gehoor kan word en hul toeters veral by spooroorgange gebruik, kan hulle weens hul gewig en lang remafstand nie skielik stilhou nie. Powervan George vra besoekers om waarskuwingstekens, seine en sluitings te gehoorsaam, spoorweggebiede slegs met toestemming te betree en die toegangsreëls van grondeienaars en grondbestuurders te respekteer, selfs waar mense al jare lank ’n sekere roete gebruik. Geen foto of kortpad is ’n lewe werd nie.

Druk hier om die volledige verklaring te lees.