Brekende Nuus
Nuus

3 vas ná leeu- en tierwelpies in East Lynne aangetref is

Foto's: SAPD

GAUTENG. – Drie mans is Dinsdag omstreeks 12:45 op ’n perseel in East Lynne, Pretoria, in hegtenis geneem nadat die polisie op ’n wenk oor vermeende onwettige handel in wilde diere gereageer en 11 diere, waaronder drie leeuwelpies en twee tierwelpies, daar aangetref het.

Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die eenheid vir bedreigde spesies en amptenare van die departement van bosbou, visserye en die omgewing het ook drie bakoorjakkalse en drie rooikatkleintjies aangetref. Al 11 diere is aan natuurbewaringsowerhede oorhandig en sal deur veeartse ondersoek word voordat hulle by ’n geskikte fasiliteit of veilige plek gehuisves word.

Die verdagtes, onderskeidelik 21, 24 en 25 jaar oud, sal na verwagting in die Pretoria-Sentraal-landdroshof verskyn op aanklagte van onwettige handel in wilde diere ingevolge die biodiversiteitswet. Die polisie ondersoek of die mans met ander misdrywe verbind kan word.