VRYSTAAT. – ’n Vrou (41) se liggaam is Donderdag omstreeks 16:00 in Riverside, Phuthaditjhaba, deur haar seun in die bad, met ‘n oop, sigbare kopwond aangetref. Die oorledene se man (45) verskyn vandag op ‘n aanklag van moord in die Phuthaditjhaba-landdroshof.
Kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die polisie is ontbied en is deur die oorledene se seun na die badkamer geneem waar sy ma se liggaam in die bad aangetref is. Volgens die seun, wat nie by die huis woon nie, het hy die huis besoek en nadat hy geen antwoord gekry het nie, kon hy eindelik by die kombuisdeur toegang verkry.
Binne het hy tekens van ’n gewelddadige konfrontasie aangetref, insluitend ’n gebreekte spieël, bloed op die mure en lopende water. Ná die ontdekking van sy ma se liggaam het hy ’n buurman gekontak, wat op sy beurt die polisie in kennis gestel het. Die vrou se man, wat nie op die toneel was nie, het later self sy ligging aan die polisie bekend gemaak en is kort daarna in hegtenis geneem. Die beweerde moordwapen is gevind en deur die polisie gekonfiskeer.
Die verdagte bly tot sy hofverskyning in aanhouding.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





