WES-KAAP. – Die Somerset-Wes-waterpypvervangingsprojek is tans aan die gang – ’n projek wat in April vanjaar begin het en teen November 2025 voltooi moet wees.
Die Stad Kaapstad sê in ‘n verklaring die vervanging behels 3,1 km se 50 mm-veselsementpype, wat geneig is om gereeld te bars, wat met 110 mm-hoëdigtheid-poliëtileen (HDPE)-pype vervang word. Hierdie nuwe pype is kostedoeltreffend, het ’n langer lewensduur en voldoen aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) se spesifikasies.
Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê: “Deur pypnetwerke proaktief te vervang, is ons beter voorbereid vir vinnige bevolkingsgroei. Dit stel ons ook in staat om sistematies te beplan en te begroot vir die verwagte slytasie van infrastruktuur. ’n Verdere belangrike voordeel is dat pypvervanging lekkasies verminder, wat ons help om water te bespaar.”
Die werk word in verskeie strate gedoen, waaronder Drama-, Pienaar-, New-, St George-, Angus- en Swallestraat, asook Meadowlaan. Dit is deel van die Stad se breër verbintenis om te belê in die vernuwing van waterinfrastruktuur wat mettertyd agteruitgaan.
Gedurende die 2025/2026-boekjaar is R239,5 miljoen aan die stad se waterpypvervangingsprogram toegeken. Teen einde Junie het die direktoraat vir water en sanitasie meer as 66 km waterpype vervang, wat die jaarlikse teiken van 50 km vir die 2024/2025-boekjaar oorskry het. Dit verteenwoordig 133,9% van die doelwit wat bereik is deur geteikende projekte om die betroubaarheid van die waternetwerk te versterk en waterverliese te verminder.





