GAUTENG. – Frank Tshabalala (34), ‘n pastoor van die Jehovah Jireh Church van Fochville, is tot twee keer lewenslank vir twee aanklagte van verkragting, 15 jaar direk vir statutêre verkragting, 10 jaar vir diefstal en ‘n jaar direk vir aanranding, gevonnis.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Tshabalala het onskuldig gepleit en gesê hy was in ‘n liefdesverhouding met al sy slagoffers, insluitend ‘n minderjarige meisie.
In 2018 is ‘n minderjarige (14) van Carletonville deur die beskuldigde op ‘n sokkerveld aangerand, met ‘n skerp voorwerp gedreig en verskeie kere verkrag. In 2019 is ‘n vrou (26) van Carletonvillie wat deur die beskuldigde op Facebook ‘n werk belowe is, verkrag en beroof. Hy het haar selfoon gebruik om werk aan familielede te belowe en is tydens ‘n polisielokval in hegtenis geneem. Nadat die beskuldigde in die hof verskyn het, het hy borg van R5 000 gekry.
‘n Jaar later het hy dieselfde modus operandi gebruik om ‘n vrou (23) met werk op Facebook te lok. Die slagoffer het hom in Carletonville ontmoet waarna hulle na Fochville toe is. Sy is in ‘n veld verkrag.
Later die jaar is Tshabalala in ‘n ander saak vir verkragting en diefstal aangekla en sy borg is teruggetrek. Hy is tot 15 jaar direkte gevangenisstraf vir die klagte gevonnis.
Tshabalala se naam sal ook in die nasionale register vir seksuele misdadigers aangebring word.
Regter Granova het tydens vonnisoplegging gesê Tshabalala het geen berou vir die misdade wat hy gepleeg het, getoon nie.





