KWAZULU-NATAL. – John Matambu Dercksen is steeds vermis. ‘n Saak van bedrog teen Ferdie Visser is teruggetrek, alhoewel hy steeds vir ‘n parooloortreding in aanhouding is.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Thomas Fredrik (Ferdie) Visser het op aanklag van bedrog, alternatiewelik diefstal, verskyn. Na ‘n eerste hofverskyning is die saak na die direkteur van openbare vervolging verwys om vas te stel of die korrekte prosedures gevolg is om Visser se verskyning in die Mbazwana-landdroshof te verseker. Na die ondersoek en oorweging van die bedrogsaak teen Visser is dit teruggetrek. Visser was nie in ooreenstemming met die wet op uitlewering voor die hof gebring nie. Verdere ondersoek en opsigte van die bedrogsaak is ook uitstaande.
Zululand Observer berig die aanklagte teen Visser is voorlopig teruggetrek. Die saak is in Visser se afwesigheid aangehoor, aangesien hy sy kop herhaaldelik van Qalakabusha- korrektiewe fasiliteit tot by die Empangeni-landdroshof aan die binnekant van die polisievangwa gestamp het.
Die polisie-ondersoek duur voort.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Ferdie Visser van Komatipoort, soos deur St. Lucia-skibootklub geïdentifiseer, was sedert die verdwyning van John Matambu op 16 Maart as die persoon saam op die boot Magnum Too gesoek. Hy sal glo volgende week terug wees in Suid-Afrika.
Nuusflits het berig Visser is in Mosambiek opgespoor en in hegtenis geneem.
Volgens St. Lucia-skibootklub het Visser nie die inhegtenisneming teengestaan nie en hy behoort reeds vroeg volgende week in die land terug te wees. Hy is glo ondervra, maar het nie enigiets erken nie.
Die plasing sê volgens die owerhede word alles volgens wetlike prosedure hanteer om suksesvolle afhandeling te verseker.
Bronne: NVG en Zululand Observer





