OOS-KAAP. – Noluvuyo Sinyikatha (23) het glo Woensdag 28 Augustus ‘n meisie (6) in die Upper Ngqwarha-township in Mqanduli verdrink. Sy het op aanklag van moord in die hof verskyn en bly in aanhouding.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê Sinyikatha, van die Zangci-township in Mqanduli, het die kind die dam ingelok, haar verdrink en gelos om dood te gaan. Die meisie se liggaam is deur ‘n verbyganger opgemerk wat die polisie ontbied het. Die verdagte en slagoffer is nie verwant nie, maar die verdagte het by die slagoffer se familie tuisgegaan.
‘n Geregtelike doodsondersoek is eers deur die Mqanduli-polisie geopen, maar dit is ná Sinyikatha se arrestasie na moord verander.
Mawisa sê Sinyikatha het op Woensdag 4 September in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak is vir formele borgaansoek tot 9 September uitgestel.





