LIMPOPO. – ‘n Buffel het Sondag tydens ‘n beweerde onwettige buffeljag in die Kruger Nasionale Park (KNP) tot die aanval oorgegaan en ‘n persoon wat deel van ‘n groep was, gedood.
Kol. Malesela Ledwaba sê vyf mans is vir onder meer regsverydeling en onwettige jag in die Bennemutale- en Nkotswi-woonbuurte gearresteer. Volgens inligting het die groep ‘n buffel in die park geskiet en een van die mans is noodlottig deur ‘n buffel beseer. Die oorledene se liggaam is van die toneel verwyder en langs die heining van die KNP geplaas. Een van die verdagtes is na die oorledene se huis om die familie te versoek om die liggaam te gaan haal. Dit is gedoen, waarna ‘n begrafnisondernemer ontbied is. Die begrafnisondernemer het weer die polisie oor die wonde van die oorledene ingelig.
Ledwaba sê bo en behalwe die inhegtenisnemings vir regsverydeling en onwettige jag is ‘n geregtelike doodsondersoek geopen. Meer aanklagte kan moontlik bygevoeg word. Die ondersoek duur voort.
Die vyf verdagtes sal vandag op aanklagte in die Masisi-landdroshof verskyn.





