KWAZULU-NATAL. – Die twee vroue wat glo Vrydag ‘n pensioenaris (75) wat hulle op Facebook ontmoet het, besoek, bedwelm en beroof het, bly in aanhouding. Die twee verdagtes het Woensdag in die hof verskyn.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die twee verdagtes is in aanhouding sedert hulle Maandag deur reaksiebeamptes in Montford in Chatsworth en in Sunford in Phoenix gearresteer is.
“Terwyl die vroue in aanhouding was, het die familie van die verdagtes Vrydag die items wat gesteel is, ingehandig. Die vroue is krimineel aangekla en die staatsaanklaer het die borgaansoek teengestaan. Die staatsaanklaer het die hof ingelig die verdagtes is aan nog twee soortgelyke sake verbind in Phoenix, wat by die polisie gerapporteer is.”
Rusa sê voorts een van die verdagtes het ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar vir misdaad met dieselfde modus operandi. Die saak is tot 20 November uitgestel. Die identiteit van die vroue word in afwagting van ‘n identiteitsparade teruggehou.
Hulle het glo ‘n warm drankie vir die bejaarde man gemaak, waarna hy ure later wakker geword en gesien het dat hy beroof is.
Lees meer hier:





