KWAZULU-NATAL. – Duduzile Zuma-Sambudla (42), dogter van oudpresident Jacob Zuma, het vanoggend (Donderdag) op aanklagte in verband met die publieke onrus en geweld wat vanaf 29 Julie tot 17 Julie voorgekom het, in die hof verskyn.
Adv. Mthunzi Mhaga, nasionale woordvoerder van die NVG, sê Zuma-Sambudla staan tereg op aanklagte van aanhitsing om terrorisme te pleeg en twee aanklagte van aanhitsing om openbare geweld te pleeg. Die staat beweer sy het op verskeie plekke in die land ander individue deur middel van sosialemediaplasings aangehits om die genoemde dade te pleeg.
“Die staat beweer verder dat sy ander persone wat aan die staat bekend én onbekend is, aangehits of verkry het om onwettig byeen te kom, met die gemeenskaplike opset om die openbare vrede met geweld te versteur en die regte van ander persone in te dring. Boonop voer die staat aan dat sy onwettig en opsetlik woorde of boodskappe gespreek het, in omstandighede wat redelikerwys verwag kan word dat die natuurlike en waarskynlike gevolg van haar spraak die pleging van openbare geweld sou wees.”
Zuma-Sambudla is op waarskuwing vrygelaat en die staat het die verdediging met ‘n akte van beskuldiging gedien. Die saak sal weer op 20 Maart in die Durban-hooggeregshof verskyn.





