GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola het opdrag aan lt. genl. Tommy Mthombeni gegee om verdagtes wat na bewering gewelddadige mishandeling by ZanZou-nagklub in Hatfield in Pretoria uitgevoer het, op te spoor en voor die gereg te bring.
Die beeldmateriaal wat op X/Twitter gedeel en deur Nuusflits-redaksie gesien is, is te grafies van aard om te deel. ‘n Groep mans word tot masturbasie gedwing en brutaal mishandel, terwyl liggaamsdele en gesigte sigbaar is. Genl. Masemola het die beeldmateriaal as “onmenslik, barbaars, onaanvaarbaar en afbrekend” beskryf.
Brig. Athlenda Mathe sê buiten die opdrag aan die provinsiale kommissaris, word die slagoffers van die mishandeling en aanranding gevra om na vore te kom en ‘n saak by Brooklyn-polisiestasie, in wie se jurisdiksie die nagklub is, aan te meld. Andersins kan die slagoffers ‘n saak by hul naaste polisiestasie oopmaak en dit sal na Brooklyn-polisiestasie oorgeplaas word. Getuies van die insidente word ook gevra om na vore te kom, aangesien dit die ondersoek kan help.
“Die polisie kyk in hierdie stadium na verskeie misdrywe wat gepleeg is, insluitend aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, crimen injuria en ontvoering. Die optrede wat in die video uitgebeeld word, is ook in stryd met die Popi-wet waarin die gesigte en liggaamlike kenmerke van die slagoffers vertoon en versprei is.”
Lt. genl. Tommy Mthombeni het maj. genl. Samuel Thine, die distrikskommissaris, opdrag gegee om die nagklub te besoek om meer inligting en bewyse te verkry en ook ‘n inspeksie uit te voer om seker te maak die instansie kom wetlike aspekte na.
“Genl. Masemola verseker die nasie dat die reg sy loop sal neem en dat die nodige hulpbronne aangewend sal word om te help om hierdie saak te ondersoek en die oortreders daarvan voor die hof te bring.”
Die ZanZou-nagklub het intussen ‘n verklaring wat hier onder gelees kan word, uitgereik.






